Deryck Uys (1926-2023)

Deryck Uys passed away last month at the age of 96. This prolific lawyer-turned-translator dedicated most of his retirement to the project of translating Shakespeare’s plays into Afrikaans - an astonishing and unparalleled achievement.

The Tsikinya-Chaka Centre, through TCC Press, published the first in a series of Uys’ translations (Koning Richard III) in December 2022. There is some comfort in knowing that Uys died assured of his literary legacy and, with the support of Legacy Underwriting Managers, TCC Press will ensure that as many as possible of his translations are published in the months and years ahead.

The following obituary, written by Herman Lategan, appeared on 4th June in Rapport.


Deryck Uys: Amper blind, maar vertaal 37 dramas van Shakespeare

Afrikaans was sy tweede taal, tog het hy soggens tussen twaalf en drie met ’n sewekrag-vergrootglas al Shakespeare se sonnette en toneelstukke in boeiende Afrikaans vertaal.

Deryck Uys is op die ouderdom van 96 aan hartversaking in die Nuwe Somerset-hospitaal oorlede.

Uys was vir jare lank ’n prokureur en moes wag tot hy afgetree het, sodat hy sy passie kon uitleef. Volgens Chris Thurman, professor in die departement Engels aan Wits en direkteur van die Tsikinya-Chaka Centre (TCC), sê: “Ek weet nie van enige vertaler in die wêreld wat kan sê hulle het al Shakespeare se toneelstukke en sonnette in een taal vertaal nie.

“Ek en Deryck het baie ure saam spandeer om sy vertalings te bespreek, en ek was baie bly om sy Koning Richard III te kon publiseer as die eerste titel wat deur TCC Press vervaardig is.

“Ek was baie hartseer om te verneem van sy heengaan, en kwaad (meestal vir myself) dat ons om verskeie redes die publikasie van die ander titels moes uitstel.

“Hulle sal in die loop van hierdie jaar verskyn (Macbeth, Koning Lear en Romeo en Juliet). So het Deryck ten minste gesterf met die wete dat sy werk steeds met ’n waarderende wêreld gedeel sou word.

“Deryck as persoon? Wanneer ek hom besoek het, het ek geweet dat ek ’n goeie paar uur opsy moes sit. Hy was mal daaroor om te praat, stories te vertel en mense aan mekaar voor te stel. Hy het apokriewe en woordspelings geniet, en sy kennis was ensiklopedies.”

Uys at the launch of Koning Richard III with TCC Director Chris Thurman (left) and Legacy Underwriting Managers CEO Christo Crafford (centre).

Vir Murray La Vita het hy in ‘n vroeë onderhoud oor sy swak sig vir Die Burger vertel: “Ek laat die teks vergroot en dan het ek ’n sewekrag-vergrootglas. Ek kan net vier letters op ’n slag daarmee lees. En ek kan nie lees wat ek skryf nie, maar gelukkig kan ander mense dit lees.”

Billy Rauch, voorsitter van die Cape Peninsula Organisation for the Aged (CPOA), sê: “Ek het vir Deryck ongeveer 40 jaar terug as ’n prokureur leer ken. Hy was toe voorsitter van die outistiese vereniging en op die uitvoerende komitee van CPOA waar ek in 1989 ook as vrywilliger aangesluit het.

“Ons vriendskap het eers begin groei ná sy vrou, Pam, se afsterwe terwyl hulle in Oasis-oord gebly het. Hy en sy nuwe hondjie, Tammy, kon toe ’n woonstel in Pinelands Grove kry, wat deur die CPOA bestuur word en diere toelaat.

“Deryck het gevoel ‘n man moenie alleen wees met etes nie (my vrou is reeds in 2012 oorlede). Soggens net ná 06:00 het ons vir ’n uur projekte bespreek. Sy verbeeldingskrag het geen perke gehad nie.

“Sy wonderlike geheue het gemaak dat, hoewel hy klinies blind was, hy baie van sy verwerkings in die oorspronklike Engels onthou het en dan in Afrikaanse vertaal het. Vir my was sy belangrikste gawe sy liefde vir sy medemens.

“Hy was ’n meester grapjas en storieverteller. Hy wou altyd ander bevoordeel en nie homself nie. Hy was my beste vriend en vertroueling. Vir elke mens wat oor sy pad gekom het, kan ek sê, wat ’n voorreg!”

Uys is in 1926 in Aliwal-Noord gebore. Hy studeer aan Pretoria Boys’ High School en daarna aan Parktown Boys’ High School. Hy voltooi sy skoolloopbaan aan die Potchefstroom High School for Boys, waar hy die gesogte “Hope Essay Prize” verower. Met sy prysgeld koop hy die volledige werke van Shakespeare en verskeie digbundels.

Op die ouderdom van 19 slaag hy sy toelatingseksamen vir prokureurs. Vanaf 1948 tot 1952 werk hy op ’n goudmyn en is behulpsaam op tabakplase in die destydse Suid-Rhodesië. As alleenloper in ’n afgeleë deel van die Zambesie-vallei, lees hy breedvoerig uit die letterkunde van beide Engels en Afrikaans.

Hy praktiseer vir ’n halfeeu as prokureur en was ook ‘n lektor aan UNISA en die Universiteit van Kaapstad, waar hy ’n groot aandeel gehad het in die rekenarisering van die Suid-Afrikaanse Wetsbedryf.

In Uys se woorde: “Die vertaling van digkuns, ingeslote Shakespeare se vrye verse vanuit sy dramas, is radikaal verskillend van die vertaling van prosa. Die vertaler moét ’n digter wees. Hierdie vertalings moet alleen staan as kunswerke in eie reg. Die digter skilder beelde vir die inwendige, selfstandige oog en komponeer musiek vir die binne-oor.”

Sy broerskind, Sue Anderson, onthou: “Die eerste huis wat hy en Pam in Kaapstad gekoop het, was 'n bungalow in Clifton. Elke dag het hy voor of ná werk by die trappe afgehardloop en in die see geswem. Hy was mal daaroor om in die see te swem.”

Hy word oorleef deur vier broerskinders, Sue, Mandy, Adrian en Chris.


† Deryck Uys, gebore 21 Julie 1926, oorlede 26 Mei 2023.


Previous
Previous

Tracking down rare Shakespearean books

Next
Next

“African Shakespeares” at Shakespeare Towards An End